Soekers – Dirkie Smit

11 07 2009

Die volgende stuk is geskryf deur Prof Dirkie Smit van Stellenbosch Universiteit in sy boek Stukkies van die hemel op aarde. Ek dink dit kan ons geweldig baie help om na te dink oor mense as soekers:
Tydens ‘n internasionale vakkonferensie hoor die aanwesiges hoe akademici van oraloor rapporteer oor hulle onlangse navorsing in verband met sogenaamde “nuwe godsdienstige bewegings”. Hulle vertel van allerlei groepe in Westerse samelewings wat die afgelope jare navolgers en aanhangers geword het van alle soorle van leiers: profete, ghoeroes, terapeute, genesers, hekse, raadgewers, spiritualiste, sataniste, en wat nog. Die navorsing toon dat die tipiese karaktertrekke van ‘n soorl new age-tydsgees wat vandag onder baie Westerlinge vaardig is, beskryf kan word as ‘n soort soeke, ‘n soort leegheid en verlange. Dit word gekenmerk deur ‘ n bereidheid om agter nuwe idees en idole aan te loop – veral die wat na vore kom met beloftes van vervulling vir die soeke, met beloftes van die weg êrens heen. En soms, nee meestal, kom die beloftes natuurlik teen betaling. Dit toon die navorsing ook.
Die sleutelwoord in die soort spiritualiteit is soek. Die soort mense word daarom meermale gesien en beskryf as “soekers” óók deur die nuwe profete, ghoeroes en okkulte leiers self. Hulle is juis op soek na sulke soekers! Hulle benader alle potensiele volgelinge of klante as soekers, en adverteer hulle eie ware en weë ook op dié manier. En so word twee dae se gesit in die konferensie, twee dae se geluister na die empiriese navorsing, die talle vertellinge van soekers-na-sin, op die ou end alles eintlik maar effe treurig, en half tragies.
Die stories van die soekers, van die nuwe soort spiritualiteit wat mense oraloor so boei, is eintlik maar hartseer stories. Die mense is almal soekers na binne, op soek na hulle eie ervarings en stemme, of soekers na buite, na iemand, erens, met woorde en wee van wysheid. Die bevindings van hierdie ondersoekers van nuwe godsdienstige bewegings stem ‘n mens bowenal tot somberheid, want dit is die hartseer-stories van sovele onder ons wat sonder orientasie en sonder koers soekend deur die lewe dwaal.
Die Sondag na die konferensie eet ek by vriende. Teen die yskas sit ‘n vrolike magneetjie: “Ek het Jesus gevind! Hy was toe al die tyd agter die sofa.”
lnderdaad! Met al ons soeke was Hy al die tyd daar by ons, vIr ons, om ons.
Terwyl ons soek, ja, nog voor ons soek, is ons al gevind! Eintlik was ons nooit regtig weg nie, nooit waarlik soek nie, want ons ís gevind nog voor ons gevind het. Ons is bemin, nog voor ons leer bemin het. Ons was al veilig, toe ons nog dink ons dool.
Ons het net op die verkeerde plekke gekyk. Hy was al die tyd daar, by ons, reg agter die sofa – dit is presies die punt van Hemelvaart, wat elke jaar weer op ‘n Donderdag in Meimaand wereldwyd gevier word. Hy is al die tyd daar, en ons is veilig en geborge by Hom, ook al weet ons dit nie, en ook al dwaal en soek ons wáár.








Follow

Get every new post delivered to your Inbox.